Deel van 'n reeks oor |
Genetika |
---|
Inleiding tot die genetika |
Geneties gemanipuleerde organismes |
Geskiedenis en regulering |
Prosese |
|
Toepassings |
Twispunte |
’n Alleel is een van ’n aantal alternatiewe vorme van dieselfde geen of dieselfde geenlokus (genetiese ligging).[1][2] ’n Geen kodeer ’n bepaalde oorerflike eienskap, en dus kan verskillende vorme van ’n geen verskille veroorsaak wat betref ’n sekere eienskap van ’n organisme, soos verskille in pigmentasie. Die meeste genetiese vorme veroorsaak egter min of geen waarneembare variasies.
Die meeste meersellige organismes het twee stelle chromosome; hulle is dus diploïed. Daar word na hierdie chromosome verwys as homoloë chromosome. Diploïede organismes het een kopie van elke geen (en dus een alleel) op elke chromosoom. As die allele vir die spesifieke geen ooreenstem, is hulle en die organisme homosigoties met betrekking tot daardie geen. As die allele verskil, is hulle en die organisme heterosigoties met betrekking tot daardie geen.
Die woord "alleel" is ’n kort vorm van allelomorf ("ander vorm"), wat in die vroeë dae van genetika gebruik is om wisselvorme van ’n geen te beskryf wat as verskillende fenotipes waargeneem is.